Category Archives: Multi media

Bits-n-pieces

In my werkskamer het twee stukkende haarknippies, ‘n stukkie gebreekte bord, ‘n paar glasklippies, kristalletjies en nog wat ‘n nuwe lewe gekry onder my soldeerbout.

Ek hou van my unieke goetertjies om my nek.

En wanneer iemand anders ook daarvan hou, gee ek dit sommer weg.

Nog 'n stukkie gebreekte bord, glasklippies en kristalletjies

Nog ‘n stukkie gebreekte bord, glasklippies en kristalletjies

Ietsie vir my werkskamer se deur

Ek was sommer net lus vir speel en het al so paar weke gelede iets vir my werkskamer se deur gemaak. Vandag het ek dit net skoongemaak en vasgesit so tussendeur eksamenantwoordstelle merk.

Baie van die teëltjies, glasklippies en al die kraletjies het ek ‘herwin’ uit die brandpuin van die chalet. Die klei seeperdjies en skulpie het albei brande oorleef, ek het hulle nog destyds in Pretoria gemaak vir yskasmagnete. Die stukkie wit glas agter die kraletjies het ook albei brande herwin.

Dit is dus artikeltjies wat ‘n tweede kans gekry het om in nuwe glorie êrens te pryk en verteenwoordig ‘n reeks tipes handwerk wat ek doen.

Selfs die sand vir die agtergrond is ‘tweedehands’… Dit kom uit ‘n swembadfilter en was buite tussen rooigrond op ‘n hoop. Ek het dit gesif, gewas en gewas en gewas om die rooigrond uit te kry, en nou het ek blikke vol pragtige skoon sand vir wat ook al.

Soos baie van my handwerk is hier baie simboliek ingeweef, maar dit sal ek vertel op ‘n ander dag.