Vrugte in glas vir my kombuis

My eerste handwerk projek vir die vakansie was loodglas venstertjies vir my kombuiskassies. So groot projek is ‘n tyd-vreet-gogga van formaat en ek eet, slaap en lewe tot dit klaar is. Daar is 3 groot vensters en een langetjie om te vul, ek het nou net fase een gedoen, twee van die groot vensters. Al rede waarom ek nou net twee doen is dat ek nie op die patroon van die middel venster kan besluit nie.

IMG-20141216-00130.jpg

IMG-20141216-00131.jpg

Die ontwerpe is reeds weke gelede gedoen en het my omtrent twee weke geneem. Ek gebruik voorbeelde van die internet af wat ek dan verander, saamvoeg en wegvat tot dit aan my behoeftes voldoen. Die eindproduk is nooit heeltemal soos die patroon nie, ek pas gewoonlik hier en daar aan na gelang van ‘n stukkie glas wat sleg breek of partykeer lyk iets net nie reg nie.

Loodglas vrugte loodglas kassies 2

Van die glas wat ek nou gebruik het is stukke wat ‘oorleef’ het toe ons huis afgebrand het. Die res het ek ‘n paar weke gelede in Pretoria by Jimnettes gaan koop. Glas is baie duur en mens koop maar net wat jy nodig het.

Ek maak gewoonlik ‘n paar kopieë van my patroon. Een is die hoofpatroon waarop ek werk, so twee of drie vir ‘n back-up en een se stukkies wat dan uitgesny wat die patroontjie vorm om die glas te sny. Mens werk heeltyd op “soft board” wat so bietjie kan mee gee. Daar mag GEEN glas splintertjies onder glas wees wanneer jy sny nie, jou glas gaan kraak en jy maak net een keer daai fout.

Mens kry net een paar oë in ‘n leeftyd… beskerm hulle!

Ek maak kort-kort my oppervlak skoon met ‘n harde borseltjie. Dit verlaag die risiko van ‘n stukkie wat jy per ongeluk vergeet wanneer jy ‘n groot stuk glas neersit, en natuurlik ook vir veiligheid.

Mens kan nooit perfek sny nie, dit beter om ruimte te laat op die rande wat dan afgeskuur word

Mens kan nooit perfek sny nie, dis beter om ruimte te laat op die rande wat dan afgeskuur word

Elke persoon leer maar eie tegnieke met handwerk en een ding wat ek doen is om die patroontjie op die glas te los wanneer ek dit skuur.

Die papier plak mooi aan die glas vas van die skuurmasjien se water.

Die papier plak mooi aan die glas vas van die skuurmasjien se water.

Die geskuurde stukkies plaas ek dan stukkie vir stukkie op die groot patroon soos ‘n legkaart.

IMG-20141209-00097.jpg

Wanneer mens die kleure wat jy gekies het begin sien, dan kom jy soms agter dat iets net nie vir jou werk nie. Soos die peer. Ek het dit later na ‘n groen peer verander, en die boonste druiwe in twee pruime

Wanneer die prentjie volledig is, was ek elke stukkie en droog dit deeglik af voordat ek die koperfoelie op plak en plat stryk met my tooltjie. Dis nog nie te laat vir veranderinge nie! Dis groot en duur werk hierdie, en as iets nie nou reg lyk nie, gaan dit nooit wees nie. Maak jou verandering voordat jy begin soldeer indien nodig.

Mens moet so akkuraat as moontlik werk. Daar moenie oop ruimtes tussen die lasse wees nie.

Mens moet so akkuraat as moontlik werk. Daar moenie oop ruimtes tussen die lasse wees nie.

Dan is dit uiteindelik tyd om te begin soldeer. Ek gebruik ‘n klein verfkwassie om die flux aan te smeer en ek gooi net ‘n bietjie flux op ‘n slag in ‘n klein glasbotteltjie met ‘n wye nek (Purity of vissmeer botteltjies werk lekker) Onthou – die agterkant moet net so netjies wees soos die voorkant.  Nog ‘n ding – onthou maar om toe skoene te dra wanneer jy begin soldeer… Mens leer nogal allerhande nuwe tale wanneer daar ‘n warm druppel soldeersel tussen jou tone inval!

Dis gebeur vreeslik maklik dat die uiteindelike produk skeef is. ‘n Bietjie speling hier en daar maak uiteindelik ‘n groot verskil. Om te verseker dat die dimensies korrek bly, bou mens ‘n raamwerk. Roelf het sommer vir my aluminium hoekstrokies gekoop en gaatjies geboor waarin ek spelde gekap het vir myne.

Aluminium raamwerk om te verseker dat die paneel gaan inpas waar hy moet

Aluminium raamwerk om te verseker dat die paneel gaan inpas waar hy moet

Sorg dat die glas goed afkoel voor die volgende proses, die afwas van die flux wat ‘n suur bevat. Die soldeersel word nie net gewas nie, maar ook met staalwol geskuur.

Wanneer die glas afgekoel het, was ek dit met blou Bingo seep, die skuurmiddel daarin is hoogs aan te bevele.

Wanneer die glas afgekoel het, was ek dit met blou Bingo seep, die skuurmiddel daarin is hoogs aan te bevele.

Daarna word die seep afgespoel en alles goed droog gemaak. Soldeer weer enige plekkies waarmee jy ontevrede is, en glo my maar, daar is altyd. Was en skuur weer deeglik. Oppas vir oordoen!

Nou word daar swart Patina aan die soldeersel gesmeer en lekker gevryf met ‘n wattetjie sodat die chemiese reaksie behoorlik kan plaasvind met die metaal. Die plat wattetjies met die papiertjie om werk die lekkerste, gewone bolletjies watte maak fraaientjies. Vee oortollige Patina behoorlik af met ‘n lap.

Ek verkies swart Patina, 'n koper Patina afwerking is ook beskikbaar.

Ek verkies swart Patina, ‘n koper Patina afwerking is ook beskikbaar.

Smeer dan metaal politoer aan en vryf soldeersel en glas blink met ‘n lekker sagte lap. T-shirt materiaal werk die lekkerste.

IMG-20141216-00124.jpg

Uiteindelik kan jy jou produk oplig sodat die son op en deur die glas kan val! Maar dis net vir jou eie oë bedoel… In hierdie geval moes die paneel nog in die hout monteer word voordat die projek heeltemal voltooi was en ander mense dit kon beloer.

'n Heerlike gevoel wanneer mens op hierdie stadium kom!

‘n Heerlike gevoel wanneer mens op hierdie stadium kom!

Ek en manlief het klein spykertjies en silikon gebruik om die glas in die hour raampie te monteer.

Ek en manlief het klein spykertjies en silikon gebruik om die glas in die houtraam te monteer.

So… as jy al ooit ‘n kwotasie vir iemand gevra het vir ‘n loodglas projek en gedink het jy sal ‘n nier moet verkoop om dit te kan bekostig… jy weet nou waarom! Buiten die harde werk, is daar maar altyd ‘n bietjie bloed wat vloei van ‘n glas splinter hier en daar, of ‘n stukkie warm soldeersel wat jou brand.

Advertisements

2 responses to “Vrugte in glas vir my kombuis

  1. Jy is so talentvol!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s